Oppad RSA het ons 'n dag in Londen spandeer en ek en Renee het in Notting Hill (Renee wou sien waar hulle die fliek gemaak het!) en Kensington en het toe naby "Piccadilly Circus" a lekker kerrie gaan eet. Dit was vreeslik warm en bedompig in Londen. Ek weet nie of dit net ons was nie, maar dit was vreeslik - ek was die hele tyd papnat van die sweet. (Foto's)
Die volgende oggend is ons per bus na Parys. Dit was regtig baie lekker om deur die Engelse platteland te ry oppad Dover toe. Daar is oorals sulke klein dorpies met krieketgronde ens. Natuurlik in Dover is daar die “White Cliffs of Dover” en dit het so bo 'n mens uitgetoring in Dover en op pad Calais toe kan 'n mens dit mooi sien as jy agter toe kyk. (Foto's)
Die franse platteland is ook vreeslik mooi om te sien. Dit is snaaks hoe dit 'n mens aan die Kaapse platteland herinner. Dit is duidelik dat die wynland se argitektuur baie geleen het van die franse. Mens kan ook die invloed wat dit op die Vrystaatse platteland gehad het sien - daar is dieselfde klein dorpies- a kerk, 'n ry populier bome en klein straatjie met 'n paar huisies en 'n paar winkeltjies.
Met ons aankoms in Parys het ons nie 'n idee gehad waar ons was nie. Gelukkig was daar 'n Duitssprekende Fransman op die trein. Ek het bietjie my skoolduits uitgehaal en hy kon darem vir my laat verstaan wat aanggaan toe die trein skiklik stop en almal uitklim. Hulle was besig om op die lyne te werk en ons moes met 'n bus na die volgende stasie op die spoor gaan.
Parys was ook vreeslik warm en bedompig. Ons het naby die rooiligdistrik gebly - een blok van die "Moulin Rouge" - en dit was vreeslik raserig. Ons het die eerste nag omtrent niks geslaap nie dit was so 'n "Catch 22" soos die engelse dit noem - dit raas minder as die vensters toe is, maar was vreeslik warm, so dit vensters het maar oop gebly. Ons het 'n wonderlik tyd in Parys gehad. Oorals waar jy gaan is die argitektuur pragtig. Die eerste aand daar het ons so ent gaan stap in die hoofstraat van die rooiligdistrik - baie kleurvol en lewendig.
Die eerste oggend is ons af na die Seine ens, maar ons het so twee ure lank gesoek vir 'n toilet - iets wat ons baie oorgekom het - daar is net nie! Ons het na die Notre Dame en het die "Mass" bygewoon daar. Die sing en die orrel musiek was ongelooflik binne die katedraal. (Moet erken ek het niks van die Dominee se preek verstaan nie - alles in Frans!) Dit was baie bedompig en ons het laags die Seine rond gestap en toe na die Louvre toe die onweer kwaai dreig. It was ook fantasties om die “Venus de Milo”, “Mona Lisa” ens te sien. Teen skemer het ons weer langs die Seine gestap tot by die Latynse Kwartier en het daar in 'n plekke geeet in die sogenaamde “Bacteria Alley” - die steggies met die goedkoop eetplekke. (Foto's)
Die volgende oggend was ons dadelik na die Eiffel Toring aangesien die weer bietjie beter was as die vorige dag. Ons is toe na die Arc de Triomphe en het langs die Champs Elysees afgestap en het in klein restaurant aan die Champs Elysees ietsie geeet. Na middagete was ons op na Montmartre en die Sacre Coeur asook die area waar die kunstenare bymekaar kom. Na bietjie slaap ons ons weer af na die Seine om te eet en die Champ Elysees in die nag te besugtig. Ons kry toe 'n boot wat die Seine op en afvaar en waarop jy kan eet terwyl jy Parys in die nag bekyk. Die Eiffel Toring, Louvre en Notre Dame was veral mooi - hulle het mooi beligting op in die nag. (Foto's)
Die volgende dag is ons na Versailles – 'n ongelooflike ervaring – 'n mens kan jou skaars indink hoeveel geld is gemors op die adel en die paleis! Die tuine is asemrowend - die skaal moet gesien word om te glo. Die aand het ons net sommer gestad en 'n fantastiese klein restaurant gekry - dit was regtig interessant, want alles was in Frans en die mense het nie 'n woord engels gepraat nie. Ons het darem reggekom, alhoewel ek baie gatties was om te ontdek dat daar murgbene op die spyskaart was - dit mense langs ons het begin smul daar aan! (Foto's)
Die volgende dag het ons maar rondgeloop in Parys, met die gebruiklike paar uur se soektog na 'n toilet! Uiteindelik kry ons een in "Marks & Spencer". Ons het daar gaar hoender en toebroodjies gekoop en by Parc des Buttes-Chaumont gaan eet. Dit was baie mooi daar - dit was 'n ou steengroef wat herwin was. Dit was baie mooi en rustig.
Later is ons terug na die omgewing van die Seine en het daar afgewandel van die bokant van die Tuileries naby die Louvre, lanks die Champs Elysees tot by die Arc de Triomphe. Ons het toe die Metro terug gevat na die trein stasie en toe 'n vreeslike rit terug na Londen op die bus. Die bus was nie naastenby soos die bus was ons na Parys gebring het nie - met die gevolg dat ek nie my bene kon beweeg nie en het gald nie geslaap nie. Die enigste ligpunt was dat ons via die "Chunnel" na Engeland was - dit was iets wat ek wou doen, maar die kaartjies was hopeloos te duur. (Foto's)
Teen die tyd wat ons in Parys aangekom het, het ons maar baie min lekker gevoel - dit was 05h30 die oggend, die "Underground" het nog nie geloop nie, alles was toe en Renee het siek gevoel. Ons het maar Heathrow toe gery en vir ons 'n dagkamer in 'n hotel gekry, vreeslik lekker geslaap tot 15h00 en toe terug lughawe en na Suid-Afrika. Snaaks genoeg het ek 'n ou koshuismaat van Dagbreek se dae, Andre van Wyk, (saam met my in Seksie 18 in 1982/83) met die instap van die vliegtuig raakgeloop - hy sit toe 'n paar sitplekke van ons af in die vliegtuig.
Die volgende oggend met ons aankoms in Kaapstad is ons teruggeruk na Afrika - die eerste indruk 'n elle lange tou by doeane - Afrika Tyd! Na ons lang wag is ons deur Alice (Renee se ma), Eddie & Hester (my ouers), boetie Andre en Renee se tante Phillie ontmoet. Ek en Renee het eers tyd by Renee se ma spandeer en is toe later deur na Stellenbosch na my ouers se huis. Die volgende oggend het ek Harry en Lynette Lewis by die bank raakgeloop (Harry het saam met my in Stellenbosch rekenaarwetenskap studeer en Lynette was 'n jaar voor ons)
Die naweek was baie rustig maar ons het darem 'n braaitjie by Renee se neef Frans gehad en ons kon darem vir 'n verandering baie skaap vleis en “block and tackle” (liver in netvet) kon eet. Ons het die seuns die volgende oggend by die lughawe gehaal en het 'n paar dae saam vriende en familie besoek. Ons was ook by die Waterfront en was een van die dae saam met Renee se neef Frans Groenmarkplein om kunsgoedjies te koop vir ons sitkamer wat ons nou 'n Afrika-tema mee begin het. Ons het by ons ou gunsteling restaurant in Houtbaai gaan eet - die "Fisherman’s Wharf". Ek was totaal uit die veld geslaan om te ontdek dat die pryse vandat ons weg was hemelhoog geskiet het. As mens dit na Kanadese Dollars oorskakel is dit seker maar dieselfde, maar dit kom mens baie duur voor. R270 vir die "Fisherman’s Platter" vir een persoon. Ek het ook na die prys van vars/lewende seekos gekyk en dit was ook maar skokkend - Kreef teen R145 /kg – Ek het as student Kreef teen R3 elk gekoop m.a.w. so R3 /kg, want dit was sommer groot krewe. Ons het mos oulaas teen die Weskus opgery in Sept ’97 voor ons Kanada toe is en ons het so R60 /kg betaal. Ek het ook 'n artikel in die koerant gesien wat Perlemoen se prys op R890 /kg gestel het. Terwyl ons in Houtbaai was, was daar 'n karbom in Kaapstad, wat ons vinnig herinner het aan waar ons was!
Aangesien my been seer was en sedert die eerste dag in Parys las gegee het, was ek na 'n dokter in die Kaap. Toe was dit fisio's en uiteindelik stuur hulle my na 'n Neuro toe (wat skynbaar saam met Samuel Fourie, my ou skoolmaat van Pietermartizburg, in Bloemfontein geswot het). In elkgeval sou hulle dalk moet opereer ens. Ek het maar besluit om dit in Calgary te laat doen. Dit het maar lelik my tyd in Suid-Afrika opgeneuk. (Toe ek terug was in Calgary, sien ek toe 'n fisio en die het my binne 3 besoeke verlos van die pyn – sonder om aan my eers te raak - my net vertel wat om te doen!)
Die eerste dag in September het die seuns en toe ek en Renee Johannesburg toe gevlieg.Ons was by die lughawe ontmoet deur Prof and Marietjie Steyn, ou vriende van Stellenbosch en Pretoria dae. Marietjie en Renee het 'n kans gehad om te kuier voor sy en die seuns na London vertrek het. (Hulle het die nag daar oorgebly en die stad verken op pad na Calgary). Ek is saam met Prof hulle na Pretoria. Oor die naweek het ons natuurlik bietjie gebraai - Prof het gewys hy het nog niks vergeet van die kuns van braai nie! Ek en hy het 'n bietjie rondgery. Ons was onder andere na die nuwe Menlynsentrum - baie indrukwekkend. Later was Prof en ek na my ou buurman Chris Viljoen en na my ou huis in Erasmuskloof gaan loer. Chris het 'n wonderlike lapa gebou by sy plek en dit was lekker om 'n bietjie te kuier daar. Ons ou huis het nou meer tralies en heinings as drie jaar gelede! Pretoria het vir my baie vuiler as 3 jaar gelede gelyk. Die Sondag het ek en Prof by Bossie Boshoff (Stellenbosch & Pretoria dae) en sy vrou en tweeling gaan kuier.
Maandagoggend is ek deur na Johannesburg om besigheidsvennote van Neles Automation te gaan ontmoet en met hulle te werk. Ek het die volgende paar aande by my suster Diets in Johannesburg gebly. Woensdagoggend is ek vroeg deur na Mossgas, so dit was 'n kans om vinnig die Suid-Kaap te sien. Aand het ons weer van George and Kaapstad gevlieg en ek het weer by my ma-hulle in Stellenbosch gebly. Donderdag en Vrydag het ek nog besigheidskontakte in Kaapstad gaan sien.
Die laaste week en naweek in Suid-Afrika het ek my broer gehelp trek na hulle woonstel in Stellenbosch (nie baie goed vir die rug nie!) Ons het ook 'n klein wyntoer gedoen - natuurlik na "Fairview" waar ons lekker aan Swartlandse wyne geproe het en natuurlik ook 'n bietjie bokmelkkaas gekoop het. Ons was ook verby my ma se familie se "familieplaas", "Vrymansfontein". Ons was ook by "Avondale" - waar ek regtig beindruk was. Ek het sommer 'n halwe kas gekoop het. Ongelukkig het net 3 bottels oorgebly teen die tyd wat ek na Kanada teruggekeer het! Ek het ook een aand Gumbo gemaak en ons het almal een aand by Roeann en Nicky le Roux (skoolvriende van my van Pietermaritzburg) gebraai en oorgebly.
Ek het ook saam met Moppie Heyns (nog 'n Stellenbos vriend) gaan middagete eet. Ek het ook saam met Pieter de Villiers en sy vrou Ronel (nee Otto) sowel as Suzette (nee Lamprecht) wat ook Rekenaarwetenskap geswot het op Stellenbosch.
Teen die einde van die week het Diets en Jean-Marguerite (my peetdogter) in Stellenbosch aangekom en dit was die koudste nag wat ek kan onthou aangesien dit van Tafelberg tot De Aar gesneeu het. Die berge om Stellenbosch was vol van die sneeu. Glo my, ek was baie kouer in Stellenbosch daai aand as wat ek al die tyd in Kanada was!
Donderdag het ons Eddie’s se 75ste verjaardag gevier by Andre en Linda se ou huis in Somerset West..
Hier is 'n paar foto's van die tydjie in Suid-Afrika.
Die volgende dag is ek na London het het 'n vervelige dag by Heathrow spandeer terwyl ek vir my vlug die aand gewag het. Dit was vir my vreeslik aangesien die klomp daar rook dat 'n mens se oe traan. Ek het ook maar nie lekker gevoel nie, maar 'n stort het dinge bietjie verbetert. Die vlug was eintlik lekker, aangesien ek die enigste persoon in 'n ry van 4 sitplekke was. Ek het dus meeste van die vlug kon slaap.
Om in Calgary terug te kom was regtig lekker. Ek het ommiddelik 'n sin van die afstand van Afrika gekry - soos ons van die lughawe na ons huis gery het, was dit stiller, skoner en kalmer - almal wat teen die spoedgrens ry ens. Dit was toevallig ook die tyd wanneer die blare draai - blykbaar die week voor my terugkoms begin – alles was geel, oranje en rooi. En ook baie warmer as Suid-Afrika!