Hierdie laaste naweek was ons Lake Louise toe, Canmore en Bragg's Creek - Lake Louise is baie bekend as 'n meer met 'n ongelooflike blou/groen kleur. Dit was einde verlede week koel (so -10C), so die meer het begin toe ys. Die hotel daar is pragtig - Chateau Lake Louise - kyk gerus in 'n boek oor Kanada. Ons het toe die ander klein dorpies gaan verken en deur die Banff Nationale Park gery. Dit was koel, maar as 'n mens in die kar is is dit onwerklik - alles lyk so skoon, sonnig ens. As jy uit die kar klim is dit -10C of -13C en, as die wind waai, is dit baie koel.
Ons hoop om vandag ons trek te kry. Hulle het ons verlede week gebel om te se dit kom of Maandag of Vandag, so ons sal bly wees! Dit sukkel met alles, want 'n mens soek altyd iets wat nog in "Die Groot Trek" is.
Die weer is baie snaaks in Calgary, die laaste week was dit so -10C to -17C, en vandag gaan dit op na +6C! (Hittegolf!?). Soos met die motor is dit snaaks om in die huis te sit en buiten toe te kyk. Die son skyn pragtig in Calgary - seker die meeste sonskyn van alle Kanadese stede. As 'n mens egter buitentoe gaan, dan is die werklikheid van die rooi merkie by -10C op die termometer baie duidelik!
17/11/97
Al die huise is goed ingerig vir die koue. 'n Mens het 'n automatiese "Furnace" wat die huis op 'n konstante temperatuur hou. Al die vensters is dubbel ens. Ons hou die huis so 17/18C, wat lekker is. As dit baie koud is - so -20C en laer, het ons twee kaggels. Ons gebruik nog net die onderse ene by ons T.V. kamer - die enigste kamer wat al meubels het! Die onderkant van die huis is 'n klein bietjie kouer as die res. Die huis het 'n baie groot dubbel motorhuis onder die huis, met 'n klein stoorkamer daarin. 'n Mens kan dan trappies klim na die onderste vlak van die huis. Op hierdie verdieping is daar die "Furnace" kamer (het ook die wasmasjien en tuimeldroer in), 'n halwe badkamer, 'n slaapkamer (vir ons oudste seun) en die T.V. / Familie kamer wat 'n kaggel het soos ek gese het, en 'n skuifdeur na die agterplaas (dubbel deure natuurlik). Buite die skuifdeure is die "Deck" - 'n hout stoep met bankies om op te sit. Dit is blykbaar baie lekker in die somer. 'n Mens klim van hierdie valk 'n stel trappe na die hoofvlak waar daar 'n baie groot sitkamer is met 'n kaggel, die kombuis (maar kleinerig), 'n eetkamer en die ingangsportaal. Nog 'n stel trappies neem jou na die hoofslaapkamer (met en suite) en nog twee slaapkamers waar my skoonma en ons jongste seun bly. Hulle het ook 'n badkamer wat hulle en die oudste seun deel.
Ek soek nog my pad met die werk - dinge is nie veel verskillend van Suid-Afrika nie. Die rekenaarmark is geweldig aan die groei en hulle sukkel om poste te vul, veral senior posisies. Ek gaan hopelik (dit is die verstandhouding) na ses maande 'n meer senior pos beklee as ons mekaar uitgekyk het. Ek moet se die mense was baie kruiperig in hul houding - met die aanstelling ens - dit lyk my hulle moet baie versigtig wees as hulle met mense werk. Die maatskappy probeer om dinge redelik maklik te maak vir mense - daar is verskuie koffiekombuisies, "lunchrooms" - plekke met mikrogolfoonde, yskaste, tafels, stoele, skottelgoedwassers ens. Ook is daar die Kaffeteria (sic?) wat "$5-00 Specials", toebroodjies, asook 'n volwaardige "al a carte" spyskaart het. Daar is ook 'n daaglikse Entree (hoofmaal) van die dag. Ek het eendag net gaan loer, maar ek is maar versigtig met die geld, ons weet nie wat gaan ons uitkry na belasting nie. Daardie dag was die Entree gestopte Forel teen $7-50. Dit het bitterlekker gelyk!
Wat dit die misdaad betref is dit definitief baie minder as Suid-Afrika. Mense loop in die straat enige tyd van die dag of nag, alhoewel daar een deel is wat 'n mens maar moet versigtig wees - die Suid-Ooste van die stad. Ek het met 'n vrou gepraat wat al haar lewe in Calgary bly en sy is verskrik oor "al die misdaad". Hulle is gewoond dat daar niks is nie, so as twee immigrante in die Suid-Ooste (arm deel van die stad waar die Indiers, Tjienese en ander instroom) mekaar met messe steek is dit vir hulle 'n misdaadsgolf! Ek gesels met 'n Australieer (sic?) in Lake Louise sondag - hy vertel my juis hy geniet Kanada so en veral Calgary. Hy't juis kommentaar gelewer oor die mense in Calgary wat kla oor die misdaad - hy se "Believe me, its safe!". Hy se Melbourne is baie erg in vergelyking met Calgary. Wat kan ek se, mense los hulle motors se enjin aan die gang as hulle in 'n winkel gaan, sluit nie die voordeur nie, sluit nie die motor se deure terwyl hul ry nie, ens ens. Glo my - dit is baie beter!
Ek is nog nie seker oor die lewenskoste nie. Ons het nogal op 'n "spree" gegaan, want ek het baie vinniger werk gekry as wat ek beplan het. Ons het dus baie dinge gekoop wat ons eers later sou. Wat dit 'n maandelikse begroting betref weet ons ook nie, want ons betaal hierdie maand aansluitingskostes vir baie dinge - Deposito en eerste paaiement op die huurhuis, Deposito vir Elektriteit, Deposito vir Gas, Motor (Deposito + Eerste Paaiement), Versekering (Hele jaar se huis versekering; Deposito en eerste maand se motor versekering), Telefoon. Ook moes 'n mens dinge soos 'n asblik koop, warm klere, al jou elektriese toebehore ens. Alles is baie duur as jy dit in Rand reken. Ons het seker is $5 000-00 vir alles behalwe die motor betaal. Dit was alleen so $5 000-00 om te begin - jy kan 'n goeie tweede handse motor vir minder as dit koop, maar die versekering gaan nogsteeds baie wees. Ons begroting is min of meer so:
Huur $1 000 - 00 (Baie min vir Calgary op die oomblik. Meeste mense betaal te minste $ 1500 - 00, want daar is 'n tekort aan huise - dit meers as wat jou verband afbetaling sou wees! Ons paaiement is min of meer dieselfde as die verband betaling op 'n $140 000-00 huis - wat aanvaarbaar is.
Gas $300 - 00 (Winter, somer so $ 150 - 00)
Elekrisiteit $70-00 (Flat rate)
Motor $365 - 00
Versekering vir motor $306 - 00!
"Cable" $40 - 00 (Soos MNET - ek het alles gevat wat mens kan, ons sal later snoei!)
Telefoon $21 - 00 + oproepe (Alle oproepe in Calgary is verniet, res is 42c / min in Kanada en 94c / min internasionaal - iemand vertel my hulle telefoonrekening in RSA was groter om hulle ma in die Kaap te bel vanaf Gauteng as wat dit is om vanaf Kanada te bel!)
Kruideniersware weet ons nie - ek dink so $300 - 00. Ek dink 'n ou behoort met so $2 500 - 00 na belasting te kan uit kom.
Ons is nou ingetrek en leef lekker. Renee het ook nou 'n kar - sy het haar broer hulle se ou tweede kar gekoop vir CDN$ 1! Die versekering is nogsteeds CDN$150? / maand! Die beste nuus is natuurlik dat die Wiskey is goedkoper as Suid-Afrika (nominaal), maar baie goedkoper as die V.K. - ek gesels met 'n Skot hier en hy vertel my hy koop eerder hier as in Skotland - uit die perd se bek. Pryse wissel van so CDN$ 30 - 40. As ek reg onthou is 'n Lagavulun (sic?) so CDN$ 35. Die wyne is oor die algemeen baie duur - as 'n mens vergelyk van Suid-Afrika is 'n goeie bottel rooies so R25, dus 1/5 van 'n bottel enkelmout, waar hier is dit so 1/3 (dus is dit beter om Wiskey te koop!). Ek koop op die oomblik nog Suid-Afrikaanse wyne, want hulle kos omtrent dieselfde as die Amerikaanse goed. Franse wyne is so 'n loonie (m.a.w. een CDN$) of so duurder. Ek ken hulle egter nie. Die naweek het 'n 1989 Fleur de Kaap Shiraz gekry vir CDN$9-70, so ek het dit maar deurgewerk. Die bier is baie, baie goed. Mense drink hier bier van 'n brouery genoem "Big Rock" wat ongepasteuriseerde bier verkoop - my gunsteling is die "Traditional Ale". Daar is egter soveel verskillendes dat 'n mens regtig kan 'n proe-toer doen. Die vleis is ook baie, baie goed. Hulle se mos "If it ain't Albertan, it ain't Beef"! Ons het so paar stukkies bees al deurgewerk en dit is nooit taai nie. Hulle verstaan net nie snitte nie!