18/08/98

Die afgelope paar weke was dit bloedig warm in Calgary - so 26 tot 32C elke dag, maar die huise is nie ontwerp vir die hitte, so mens kry baie warm in die aande. Mens eet lekker aan die vrugte wat van B.C. afkom - die pryse is beter as gewoonlik. Ons het ook teen die een muur van die huis Frambose ("Raspberries"). Mens pluk sommer die goed af en eet. Die blomme en goed groei nog 'n hond uit 'n bos uit.

Ons het darem afgesit British Columbia (B.C.) van 7 tot 16 Augustus. Daar was dit nog warmer die vorige paar weke - tot 44C in die Okanagan Vallei.

Vrydag

Ons is net na 4 nm uit Calgary uit, verby Banff en Lake Louise na Golden in British Columbia (B.C.). Die veldblomme langs die pad was nog baie mooi, maar mens kan aan die bome die effek sien van die somer se hitte. Met die aankoms daar het ons maar kamp opgeslaan 'n ietsie gebraai en gaan slaap. (Ons was eintlik naby die hoofpad, so mens het maar gesukkel om te slaap). Mens verwonder jou net aan al die mense se "R.V.'s" - "Recreational Vehicles". Dit is vreeslike groot "kampers" soos ons dit geken het - 'n huis op 'n trok se basis. Die mense kom by die kampgronde en prop hulle water, ligte en riool in by die kampgronde en dan het hulle 'n huis. Hulle maak kos, stort, eet ens alles in die R.V. Vir my is dit lekker dom, want hulle kyk ook beeldradio en alles, so hulle ontspan ook maar nie.

Saterdag: Golden - Abbotsford

Met die opstaan die oggend kon 'n mens die goue gloed sien van die son op die berge, seker wat die plek sy naam gegee het. Ons het ook 'n trop Rocky Mountain Sheep gesien wat verby die kampgronde geloop en wei het. Die kampgronde was nie te waffers nie.

Na so rukkie se ry moet jy jou horlosie terug stel en vir B.C. se tydsone. Die berge oppad is baie mooi, mens ry deur sulke bergpasse waar daar tonnels is vir die sneeu en rotsstortings. Dit mens baie dink aan die Heksriviervallei, want mens ry deur valleie met die treinspore en riviere langs die pad en die berge wat bo jou uitstyg. Dit is natuurlik baie groen en vol klein watervalletjies en goed.

Ons was deur Salmon Arm, waar daar 'n groot bosbrand aan die gang was. Die hele gebied was dig met rook, en mens kon die helikopters sien wat water op die vure gooi. Dit was ook maar lekker warm - so 30C. Julle wat almal dink Kanada is koud moet 'n slag kom loer hoe lyk dit in die somer hier!

So van Revelstoke begin mens baie meer plase ens kry. Dit is almal redelik klein, maar ek dink hulle is baie produktief. Daar is ook weer pragtige mere langs die pad, onder andere by "Three Valley Gap". (Die volgende webblad kan jou meer vertel van al hierdie plekke: http://www.vacationsbc.com/index.html)

Abbotsford is in 'n pragtige omgewing, en is blykbaar die "Frambooshoofstad van Kanada". Die kampgronde was baie mooi, met blomme wat oorals ryg groei. Ons het daar die tentsleepwa slaan gemaak en heerlik gaan swem en in die "hot tub" gaan sit by die kampgronde.

Sondag: Vancouver

Ons is Sondag oggend Vancouver toe (so 70km). Ek moet ook vertel dat 'n mens maar stadig ry in Kanada. Tussen Abbotsford en Vancouver is die spoed grens so 100km/h meeste van die pad, maar die pad vanaf Calgary wissel van 110km/h (Alberta tot by Banff Nasionale Park en die tolpad in B.C.) 90km/h (meeste van die tyd), 60km/h in plekke soos waar die snelweg deur dorpies gaan. Ek moet ook byvoeg - ons tent het nie 'n slot nie en ons het dit die hele dag so gelos terwyl ons weg was - probeer dit in Suid-Afrika! Ons lag al dat ons die toeriste en nuwe immigrante kan uitken want hulle dra hulle kameras ens by hulle as hulle gaan eet by die padkafees!

Ons was eers in 'n deel van Vancouver wat maar baie gagga gelyk het (- die meisies het baie professioneel gelyk langs die pad!), maar die tuine is oorals mooi by die geboue.

Ons is daarna na Stanley Park, wat so half 'n eiland is. Daar het ons rond geloop in die pragtige tuine in die park, woude en die mooi paaie daar. Julle sal nie die plate "Impatiens" daar glo nie - sulke groot beddings met almal dieselfde kleur. Die "Geraniums" groei ook verskriklik mooi daar. Ons is toe later na 'n deel waar daar Totempale is. Ons het 'n Suid-Afrikaanse paartjie daar gekry en lekker gesels. Daar was ook twee krieketvelde in die park, so 'n mens kon darem so 'n boulbeurt of so kyk.

Ons is toe na een of ander strand waar daar 'n vlooimark aan die gang was. Die huisetjies was baie mooi en die tuine ook so.

Later is ons na 'n ander deel van die stad na die "Capilano Suspension Bridge" (http://www.capbridge.com), dit is baie, baie hoog en dit swaai so as jy daarop loop. Ek was maar lekker sweterig na ons daar oor is. Die enigste probleem is dat 'n mens weer daar moet oor om terug te gaan! Dit is baie mooi natuurskoon daar, en 'n mens kan nie glo hoe dit alles so ongerep bly in die middel van so groot stad nie - daar is foreldamme ens en mooi padjies om te stap. Mens kan sien hoekom mense in Vancouver wil bly, maar ons was gelukkig om mooi weer te gehad het die hele tyd.

Ek en Reneé is die aand na Fernando en Ria Kuhn by hulle huis in Abbotsford.

Maandag: Abbotsford - Victoria (Thetis Lake)

Die volgende oggend is ons voort na die "Ferry" by Tsawwassen. Ons het so uur daar gewag en dan ry 'n mens sommer Van en sleepwa en al op die boot. Ons het daarna buite op die dek gaan staan en kyk hoe ons oor vaar na Vancouver Eiland. Dit is verskriklik mooi om te sien hoe die eilandjies en verbygaan op pad na die hawe by Swartzbaai. Daar is baie klein hawetjies en huisies op die strande en rotse. Op die eiland is die tuine by die mense se huise almal baie mooi - net soos Vancouver. Ook al die maatskappye en regeringsgeboue het mooi tuine. Op die eiland het hulle ook so 'n tradisie om blomme in mandjies van die lamppale te laat groei.

By Thetis Lake waar ons gebly het, was dit ook baie mooi. Die meer self was 'n hanetreetjie van ons kampplek en die water was heerlik. Ek en die seuns het lekker daar geswem.

Dinsdag: Victoria (Thetis Lake)

Ons eerste stop was "Butchart Gardens" (http://butchartgardens.bc.ca/butchart/), die pragtigste tuine wat 'n mens aan kan dink. Dit was oorspronklik 'n steengroef, wat die vrou van die steengroef eienaar verander het in 'n tuin toe die klip klaar uit gehaal het. 'n Mens moet maar die blad besoek om die hele verhaal te kry. Die kinders het van hierdie weggegooi kamera's se films opgebruik in die tuine en ek het self deur 'n paar rolle gegaan. Daar is verskillende tipe tuine daar - in die "Sunken Garden" - wat die steengroef self was, kry 'n mens baie skadu tipe plante soos "Impatiens", "Begonias" ens in ander dele is sonnige blomme, 'n Japanese Tuin (baie, baie mooi) en 'n klassieke roostuine. Mens kan dit nie beskryf nie - mens moet self kyk. Ons het Suid-Afrikaners daar gekry wat op die eiland woon.

Ons is later na Victoria self. Dit is ook 'n baie mooi dorpie met 'n mooi hawetjie en oorals die blomme wat van die lamppaalmandjies groei.

Woensdag: Victoria - Ucluelet

Vroeg die oggend het die seuns gaan visvang - ek het sommer gaan help, en my eerste vissie in Kanada uitgetrek terwyl ek vir Lincoln gewys het hoe! Lincoln het darem ook 'n kleintjie gevang. D.J. niks!

Ons het toe die pad gevat na die ander kant van die eiland - hoofsaaklik om die Stille Oseaan in al sy glorie te sien. Dit is 'n baie draaierige pad deur die eiland, maar baie mooi. Daar is weer sulke mere en strome langs die pad. Die strome en riviere is so skoon dat mens die klippe onder kan sien - alhoewel die water diep is. Die woude is ook baie mooi - van die grootse, lankste, vetste ens bome ter wereld is op Vancouver Eiland. Ons het sommer die sleepwa by Ucluelet gaan staanmaak by 'n kampplek by die hawetjie en is toe na Tofino, 'n pragtige plekkie lanks die Stille Oseaan.

Oppad terug was ons by "Long Beach" - 'n baie lang strand, en die eerste keer dat dit darem vir my soos 'n strand was - sand en golwe ens. Die snaakste ding is egter dat daar sulke reuse boomstompe ens langs die strand lê - deur die see uitgespoel. Die water was egter bitter koud. 'n Mens kon net nie glo dat jy so ver in die wereld is nie - wie sou in jou wildste drome glo jy sal eendag langs die Stille Oseaan staan?

Donderdag: Ucluelet - Squamish

Ons het lekker geslaap - wakker geword met mis wat alles toe gemaak het. Dit was darem ook bietjie koeler daar.

Ons is weer met die pad terug oor die eiland tot by "Qualicum Beack" wat 'n pragtige uitsig het. Daar was sommer Kanadese Ganse wat in die see daar geswem het. Ons is toe al langs die see na Nanaimo, wat die ander groot dorp op die eiland is. Terwyl ons gewag het vir die "Ferry' het ons nog 'n Suid-Afrikaner gekry. Sy is 'n Duitse meisie van Stellenbosch wat met 'n Fransman getroud is. Hulle bly nou in Montreal terwyl hy op 'n kontrak werk. Hulle sê Kanada is baie lekkerder as Frankryk - hulle het in Parys gebly, so ek is nie verbaas nie! Die vaart na "Horseshoe Bay" aan die ander kant van Vancouver was ook baie mooi. Mens kon Vancouver van ver af sien, alhoewel dit baie duinserig was - dit het mos nie gereen terwyl ons was nie, so 'n mens kon behoortlik sien hoe baie "smog" is daar wat oor die stad hang.

Ons is toe met die "Sea to Sky Highway" na Squamish. Dit is baie mooi - 'n mens ry langs die see soos byvoorbeeld die Houtbaai pad, maar dit is net baie langer en baie mooier. Die enigste ding is die baie bome verberg die uitsig.

Ons het by "Alice Lake" gaan kamp. Die mooiste kampgronde tussen reuse bome. Die meer was ook naby en dit is seker een van die mooiste mere wat ek al by was. Ek het lekker potjie gemaak - ongelukkig was daar 'n "Fire ban" weens die brande en warm weer, so ons kon nie vleisbraai nie.

Vrydag: Squamish - Kelowna

Ons het toe die lang pad na die Okanagan Vallei gevat. Op 'n stadium het ons hoog opgeklim tot so 1350m bo seespieel en daarna afgesak tot in "Peachland" en "Kelowna". Die Okanagan Meer sit so helder blou in die vallei, met wingerde en boorde teen die heuwels langs die meer. Die Okanagan Vallei is waar meeste van die vrugte en groente in B.C. vandaan kom. Daar is verskeie wynlandgoedere en mens sien oorals tekens vir vrugte stalle ens. Blykbaar bly daar 'n monstertjie in die meer soos die "Loch Ness Monster".

Dit was baie, baie warm met ons aankoms (34C) met 'n warm wind wat gewaai het. Ons het lekker geswem in die water wat redelik koud was, maar weens die warm weer en warm wind, net reg was. Die kampgronde was in 'n ou boord en dit was baie opmekaar, so dit was nie so lekker nie.

Saterdag: Kelowna

Ons het die hele dag in Kelowna gebly - bietjie geswem, bietjie vrugte geeet en gebraai op die gasbraaitjie. Dit is belis 'n lekker plek om vakansie te hou, alhoewel die kampgronde nie so lekker was nie. Dit het so bietjie begin bewolk raak maar darem nie gereen nie.

Sondag: Kelowna - Calgary

Terug Calgary na die vakansie was ons weer deur die pragtig berge, ens. Wat my baie verbaas het, was in die 3000km wat ons gery het, het ons nie 'n enkele ongeluk gesien nie!  (Foto's van die vakansie)


20/01/99