Ons ergste hitte is gebreek. Vanaf die oggend van eerste is dit aanmekaar sneeu ens. Die laaste tyd was dit tussen -20C en -30C in die dag, so ons het darem nie warm gekry nie.
Dinge gaan goed en ons het begin kyk na huise - die huise is almal baie mooi, maar party is ook maar lekker duur. Die mark is ook maar erg omdat daar so baie mense die stad instroom, so 'n mense sal seker 'n nuwe huis laat bou. Ons sal seker so CDN$210 000, moet uithaal, maar dit sal ons seker net soveel kos soos ons huurhuis, so dit is nie te duur nie. Daarvoor sal ons 'n 4 slaapkamerhuis kry met een hele verdieping onontwikkel (die keller), 'n mens kan dit verder ontwikkel later.
Ek het die kinders en Renee hokkie toe gevat en ons het dit almal vreeslik geniet. Dit is 'n regte 'show', ligte, vuurwerke, aksie en hulle baklei ook maar lekker. En die "ref" keer dit nie sommer nie. Die manne staan sommer toon teen toon en slaan!
Verder gaan dinge goed. Die vleis en groente is baie goed hier. Ons het seker nog nie een keer 'n taai stukkie vleis gekry nie, alles is topgehalte. Ek hou mos daarvan om kos te maak, so ek maak deesdae elke naweek 'n boud of iets (vark, lam ens.) Die vark en beesvleis kom van die omgewing, maar al die lam en skaap vleis kom uit Australiee / Nieu Seeland, so 'n mens dink maar aan ons ou maatjies Wallaby en Kiwi as jy dit deurwerk.
Ek wil volgende maand begin met kunsvliegvasmaak "fly tying" lese en hoop om ook op 'n stadium kooklesse te neem. Ek wil begin met basiese lesse sodat ek darem min om meer weet wat bedoel die tannies in die resepte, anders moet ek die heeltyd vir Renee vra wat bedoel hulle.
Kersfees was vreeslik lekker. Ons het na die liggies gaan kyk by die diertuin en ook in Airdrie. ons het selfs so bietjie liggies opgesit. Die liggies is 'n groot ding hier in Kanada. (Foto's!)