Die reen wat met die kampery begin het, het toe vir so 8 weke aangehou (40 dae en 40 nagte) - tot selfs in die "Calgary Stampede" in. Die "Stampede" is blykbaar die oorblyfsel van die groot vertonings wat die manne in die vroeer jare gehou het om die mense te vertel van die "Wilde Weste" - tipies wat "Buffalo Bill" ens gedoen het nadat hulle die Buffalo's vrek gemaak het. Die hele week van die Stampede is 'n fees, met maatskappye wat verniet ontbyt gee in die stad. Ook die verskillende gemeenskapsorganisasies het ontbyte.
Die Stampede begin in die oggend met 'n parade deur die middestad van Calgary - klomp waens, vlotte, perde ens. Daar as altesaam 847 perde in die parade en dit het 2 ure geneem om verby te gaan. Dit het net bietjies, bietjies gereen, so dit was nie te nat nie. Die soorte perde wat daar is kan 'n mens nie glo nie - van hierdie grotes ("Carthorses") wat die groot karre trek soos die bierkarre wat 'n mens sien op die beeldradio. Die mense skree die heeltyd Yahoo! of YeeHaa. Dit is blykbaar die koeiseun se groet. Daar was so paar manne naby ons wat bietjie melkskommel gedrink het van 'n baie kwaai koei, want hulle het sommer ge Yahoo en ge YeeHaa dat die biesies bewe.
Ons was toe later na die "Chuckwagon Races" en die "Grandstand Show". Die wa reisies is redelik snaaks, daar is vier spanne in die wedloop. Elke span het die wa en 3 byryers. Die byryers moet aan die begin die vaatjie in die wa kry en die afdakkie opvou, en dan moet hulle met hulle eie perde by die wa by hou. Die mense trek punte af vir as hulle een van die merkers plat ry of as die byryer nie by bly nie. In die vroeer jare moes hulle die ysterstoof inpak, die tentjie opslaan en dan as hulle stop is dit die eerste span wat die stoof uit het, die tent opgeslaan het en die vuur aan die gang het wat wen. Die manne het sommer in die modder lekker vuil geword. Mense hier vertel my dat dit deel van die "Chuckwagon Race" se reels is dat die manne moet hulle wa in die stad in vat om ontbyte te maak. Na die wa reisies was daar die "Grandstand Show". Dit was nou vir jou 'n skou soos min. Natuurlik was die opstel van die verhoog vir my die interessantste - die voorkant van die verhoog is permanent, maar die agterkant is op wiele. Na die laaste reisies het hulle met 'n reuse trekker die agterkant gebring en met een of ander toertjie, die agterste deel so naby gekry aan die res, dat 'n mens nie eers kon sien dit was twee stukke nie. Hulle het ook nog dele bygevoeg. Toe die vertoning begin, blyk dit al die tyd dat die "ander" dele al die kunstenaars gebring het! Dit was 'n baie goeie dans, sing ens vertoning afgesluit met 'n vuurwerk vertoning.
Die hele week van die Stampede is 'n fees. Almal trek soos koeiseun of koeidogters aan. Ons het die Dinsdag oggend by die werk 'n Stampede Breakfast gehad - worsies, spek, pannekoek en esdoringstroop. Moet darem byvoeg dat die pannekoek is eintlik wat ons plaatkoekies noem. Die middag het ons vir die kliente 'n Stampede middagete aangebied - vleis en boontjies (die 'windpomp' spesiaal). Natuurlik was daar 'n vaatjie of 5 bier by.
Ek en Renee is toe Sondagmiddag Lake Moraine toe. (Foto's!). Dit is so meertjie naby Lake Louise, kleiner en baie minder ontwikkel. Die kleur is so 'n groenblou kleur wat hy van die gletsers kry. Die water is egter baie skoon as jy van naby kyk. Ek en Renee het so tussendeur die reen langs die meer geloop. Die plek het net so paar houtkothuisies. Daar was hierdie lieflike reuk van dennehoutvure wat so gehang het om die huisies. Die blomme is geweldig mooi in die omgewing - wit, geel, oranje, rooi, pers blomme, party gemeng, party in plate van dieselfde kleur. Daar is oorals kabbelende stroompies en watervalletjies. Toe ons by die huis kom, sien ons oorals sulke hope wit. Ons dog eers dit het gesneeu, maar kom toe agter dit is hael. Ons het 'n verskriklike storm gemis - hulle het die "snowplows" gebruik om die hael uit die paaie te kry! Al ons blomme behalwe die op die stoep is daarmee heen. Die skade van die storm was blykbaar $50 Miljoen!
Ons was hierdie laaste naweek met die nuwe tentsleepwa na Lake Louise en Jasper (Fotos!). Renee het na die Sylvan Lake episode vir ons 'n tweedehandse tentsleepwa gekry vir $500. Die tannie wat dit aan haar verkoop het, het sommer 'n klomp kampeertoerusting bygesit, so ons is nou lekker toegerus. Ons het Vrydag oggend so 9vm se kant na Lake Louise, waar ons in die kampeerterrein langs die Bowrivier kamp opgeslaan het. Die kampgronde is baie beter as die by Sylvan Lake en 'n ou is bietjie tussen die bome. Mens betaal $3 ekstra en dan kan jy houtvuur maak met hout wat hulle in hope daar los. Ons was nogal senuweeagtig, want daar is 'n beer in die kampgronde. As jy klaar geeet het, moet jy al jou vullis in die motor toesluit, en strenggesproke ook al jou klere waarmee jy gebraai het uittrek. As jy skottelgoed gewas het, moet jy dit by die toilet afspoel om te keer dat die bere dit ruik. Ons het die middag ver by die rivier gestap, dit blomme is verskriklik mooi en orals is die pragtigste mosse. Die rivier het ook so blougroenskynsel van die gletsers. Plek-plek langs die rivier is die tekens van die beer - plekke waar hy vir wurms of wat ookal gegrawe het onder boomstompe. As jy jou kossies uithaal is daar net voeltjies en "chipmunks" waar jy kyk. Die voeltjies sal sommer jou broodjies van die tafel afsteel as jy nie kyk nie. Hulle is blykbaar bekend daarvoor en sal blykbaar ook die kos vat en dit stoor vir die winter.
Martin Chamberlain het die aand laat by ons aangesluit en ons het volgende oggend na 'n lekker ontbyt na Jasper. Ons het so paar van die plekke langs die pad gestop om te kyk. Die mooiste plek was seker die Peyto Gletser en meer. Jy loop so 20 minute op na 'n uitsigpunt bo die meer en gletser. Die gletser loop direk in die meer in en 'n mens kan duidelike die vuil (geltserklipstof) water sien vloei om hom die kenmerkende kleur te gee. Die blomme langs die paadjie is verskriklik mooi. Mens sien baie keer die prentjies van 'n woud met gras en veldblomme op hegkaarte - dit lyk netso. Ons is daarna verby die Columbia Ysvelde en Gletser. Mens kan met 'n snowmobile ddarop gaan ry. hulle het ooral tekens wat wys waar was die gletser in watter jaar. Dit is absoluut pragtig. Later was ons ook na die Athabasca Valle. Die rivier loop langs die pad vir kilometers en valle is regtig mooi. Die water het so met tyd deur die klip gevreet en dit maak sulke diep nou klowe. Jasper self is 'n mooi klein bergdorpie - nie so oor ontwikkel soos Banff nie. Ons kon nie plek kry by 'n kampeergrond nie, en moes so 20 km buite die stad by die Snaringrivier se oorloopkampgrong bly. Daar is niks geriewe nie - net 'n handpomp om water te pomp en 'n "longdrop". Teen die tyd wat ons klaar kamp opgeslaan het, het ons net een behoefte gehad en dit was om te bad of stort, want daar was nie storte by die Lake Louise kampgronde en ook nie by die kampgronde by Snaringrivier. Ons is toe na Miette Hot Springs - so 50minute se ry van die kampgronde af. Ons daar heerlik gebad en gestort en met laaste lig (10nm) terug kampgronde toe. Die pad is pragtig - hoe berge en klein meertjies langs die pad. Ons het Elkramme gesien met verskriklike groot horings - seker so 6 voet oor.
Sondagoggend ry ons via Sylvan Lake en Red Deer terug Calgary. langs die pad sien ons ons eerste swart beer! Die mense is baie dom hier - klim sommer uit om foto's te neem ens. Die pad na Sylvan Lake was nog mooier as die vorige keer met die groot reen - die velde Canola is so geel dat 'n mens nie kan glo nie. Dit was jammer dat dit so gereen het want ander sou dit 'n ongelooflike foto gemaak het.
Verder is ek nou besig om die laaste week of twee van 'n projek deur te maak, en die kinders hou net vakansie. Vir die ou Pietermaritzburgers, Fernando Kuhn en sy vrou Ria was by ons huis 21 Julie. Hulle trek nou van Altona, Manitoba na Abbotsford, B.C. Dit was nou 'n ding om hom na al die jare te sien!
In Calgary gaan dit aan. Die grootste nuus van die dag is dat 'n polisieman iemand wat 'n besig was om 'n vrou met 'n mes te steek, doodgeskiet het. Dit is eerste keer in 9 jaar wat 'n polisieman iemand doodskiet en maar die 3de keer in 5 maande wat 'n polisieman 'n skoot geskiet het!. Ons het ook ons 11de moord die jaar gehad. Die oggend op die radio het hulle vertel hulle het die lyk gekry sonder enige identifikasie en teen die volgende oggend het die Mounties geweet wie die slagoffer was en teen die aand is die eerste van 3 skuldiges vasgetrek. Hulle het nou, 'n week later, die laaste van die 3 gevang.
Dit is natuurlik baie warm hier - so 25C se kant en 30C Vrydag! Ons kry nou al so warm as dit so 24C is, kan net nie 35C voorstel nie! Met die lang dae het die tuin al bietjie herstel van die hael, en die blomme op die stoep is welig - ons het klomp Petunias daar geplant.