09/03/98

Renee het natuurlik werk gekry - Ons is baie bly, want ons sal dan 'n huis kan bekostig sonder om die belt nou te trek. Haar motor het natuurlik ook 'n suierkopkraak ontwikkel en ons moes dit laat herstel teen $1300! Dit sal Renee darem nou seker vir 'n tydjie hou totdat ons weer vir haar 'n motor koop. DJ gaan nou vir sy leerlinglisensie, so hy kan een van die dae vir ons rondkarwei.

Ons was verlede Sondag na Drumheller na die "Royal Tyrrell Museum of Paleontology" - so 150 km van Calgary in die "Badlands". Dit was verlede week baie oop - min sneeu ens so 'n mens kry die gevoel van die eindelose koringvelde. Dit lyk snaaks - plek-plek is die velde wit want 'n mens sien die sneeu op die grond deur the koringpolle wat nog oorbly van die somer se oes en ander plekke is die pure goud, seker omdat 'n mens nie die sneeu sien nie. Die museum is baie indrukwekkend, ek het lanklaas dit so geniet om na goed te kyk. Van die hoogte punte is twee volledige T.Rex skelete, verskeie ander volledige skelete wat staande gemonteer is - Albertasaurusse, en noem-dit-hulle-het-dit-saurusse. Hulle het ook 'n vreeslik groot "Ammonite" - seker so 8 voet hoog - van Duitsland. Hulle "Trilobites" is ook baie goed skoon gemaak sodat die lyf uit die klip staan in 3D. Hulle het baie min plant fossiele, maar wat baie goed was, was 'n paar dennebolle en takke van plante wat met suur uit die klip gehaal is. As 'n mens wil sien hoe lyk van die takke moet jy net vir jou 'n 1cm stuk roosmaryn gaan pluk - so is dit so 'n takkie met klein blare op - perfek as of dit net gepluk is.

Ons was hierdie naweek Banff toe. Ons het mos verlede Sondag klaar gemaak met die Baptiste se lede klasse en ons is aanvaar as lede, alhoewel ek, D.J. en Lincoln moet nog "swem" voor ons amptelik lede kan word. Die wegbreek was vreeslik lekker. Ons het weer na die Banff Springs gegaan en in die water gaan sit. Dit was egter nie baie koud nie (so -10C of so, maar die wind het redelik gewaai), so ons het nie dieselfde tipe ervaring gehad soos laas, wanneer ons hare dadelik wit geword het en jou hare dadelik vries as jy jou dompel. Metertyd het dit darem so bietjie koeler geword so dit was bietjie beter. Ons het ook lekker in 'n "Diner" geeet - moet se dit was van die beste hamburgers was ons al in Kanada geeet het. Ons het juis op pad gepraat oor die dinge wat die Noord-Amerikaners hulle op roem is nie baie goed nie - hamburgers is beter by Wimpy, Steers ens in Suid-Afrika. 'n Mens moet liewer nie die Noord-Amerikaanse plekke soos McDonalds, Wendys ens probeer nie - dit is nie baie goed nie. Ons vermoed dit is omdat hulle te bang is om te gedagvaar te word, so hulle oorkook die patties, daar is baie min vet in en omtrent geen sout nie. Ek het in desperaatheid al "patties" gekoop en ons eie smulburgers gemaak! Die ander ding is natuurlik Kanadese spek - hulle "rave" almal daaroor, maar dit is soos goedkoop Siud-Afrikaanse spek - die ene vet! Ek eet liewer die Japanese kitskos - Soekie-yakie of so iets. Lincoln probeer enige iets, laas het 'n saam met my Japanees geeet, Renee eet gewoonlik Meksikaans - Taco's of sommer net 'n broodjie. D.J. se voorliefde is 'n "Sub" - 'n broodjie wat volgestop is en hoe!

Verder het ons rondgery en gaan an die Kananaskis area, waar daar baie mooi mere is, en "Nakiska", waar hulle die Ski items van die 1988 Calgary Olimpiese spele gehou is. Dit is baie mooi daar en ons gaan dalk hierdie Saterdag saam met Martin Chamberlain (was saam met my op Maties!) daar ski.

Dit het in verlede week begin sneeu en ons het seker die tweede regte sneeu van die winter gehad. Toe ons terug kom van Banff af, was die hele plek wit - so daar bly darem 'n bietjie skop nog in die winter!

12/03/98

Dit was die afgelope paar dae maar baie koud - so -32C Dinsdag oggend, maar dit was gister +9C! Dit is 'n Chinook - wat Calgary bekend maak - 'n warm wind wat vanaf die Amerikaanse woestyne en vaktes kom. 'n Mens kom die koue agter as jy die kort ent na die bushalte stap. Ek was Dinsdag laat want ek het bietjie verslaap, so my hare was nat en dit het dadelik gevries toe ek buiten toe kom!

Ek praat nou die dag met Renee en sy vra vir my of dinge regtig so erg was in Suid-Afrika. As 'n mens hier bly dan vergeet mens van misdaad en korrupsie ens. Ek het nou die dag by die vulstasie agter gekom ek het in die winkel ingegaan en my deur oop vergeet. Dit is so 'n snaakse gevoel om nie te dink of iemand jou kar gaan skaak of jou beroof ens nie. Ek sien nou die dag 'n kar met sy ligte aan en wou vir die mense by die hotel vertel sodat hulle vir die eienaar kan roep, maar D.J. kom agter dat die enjin loop - mense doen dit hier - gaan in 'n winkel in en los die enjin aan om die motor warm te hou!

Ons sal nooit weer Suid-Afrika toe gaan nie. Hier is die plek vir ons! Ek sal dit regtig aanbeveel, maar dit is seker 'n persoonlike saak, baie mense vind dit baie moeilik om te immigreer. Die moeilikste is dat jy nie vriende het nie ens. Ons was gelukkig, want my swaer bly mos al hier, en ons kon 'n huis oorkant die straat van hulle huur, so ons het familie oorkant die straat, en ons ken al die bure deur my swaer hulle. Martin Chamberlain, wat 'n jaar na my RekWet gestudeer het op Maties het my so paar maande gelede gebel uit Vancouver, en ek het vir hom 'n onderhoud hier by Valmet organiseer en hy het hier begin werk, so ek het darem om mee Afrikaans te praat by die werk ens, wat dit maklike maak. As jy toegang het tot Internet Explorer or Netscape, gaan na www.canada.co.za - die Kanadese Hoekommisariaat in Pretoria. Jy kan daar inligting kry oor immigrasie ens. Baie SA wat Kanada toe kom weet net van Vancouver en Toronto en hulle gaan soentoe, wat baie sleg is, want die stede is baie groot, alles is baie duur en die stede gaan ekonomies agteruit op die oomblik. Calgary is 'n klein stad wat baie goedkoper is, meer 'n familie tipe plek, naby die berge ens, en dit is 'n "boom town" op die oomblik. Baie mense stroom in van oorals aangesien daar baie werk is, en dit is 'n lekker plek om te bly. En as die mense begin om vir jou te vertel hoe koud is dit ens kan jy vir hulle se om te loop vlieg - 'n mens kry kouer in RSA as hier!

24/03/98

Net toe ons dink die winter was verby, toe begin dit! Verlede Maandag het dit so 9 uur die oggend begin sneeu - net nadat ons almal by die werk gekom het. Teen die middag was die sneeu al dik, en dit het net aangehou. Ek het 3 en 'n halwe uur geneem om by die huis te kom. Die bus was so uur en 'n half laat, en toe neem die busrit na die huis nog soveel. Ek was teen die stadium vreeslik nat en koud! In elkgeval Renee en die seuns en die bure het al die opritte in die "court" geskoffel, maar dit het nog aanmekaar gesneeu. Die kinders het laat gaan slaap om te hoor van die skole, maar dit was eers die volgende oggend wat hulle aangekondig het dat alle skole in die omgewing gesluit is. Ek het maar probeer werk toe gaan, maar binne 'n driekwartuur was ek maar huis toe, aangesien daar geen bus te sien was. Renee het toe ook gaan kyk, want dit was darem haar tweede dag by die werk, so dit sou nie so goed wees om nie op te daag nie! In elkgeval, sy was na so 'n uur terug met die nuus (wat sy by 'n mal mens gehoor het - besig om met sy hond te draf!) dat die busse valgeval het, en die sleepwa het ook vasgeval! Nou ja, toe het ons maar baie die huis gebly. Renee se werk het later gebel om te sê dat hulle almal laat weet het om nie te probeer nie, maar hulle het nie haar nommer gehad nie. By my werk was daar blykbaar 10 mense wat dit gemaak het. Dit is nou 'n "snow day" - die eerste een in so 13jaar! Ons het toe lekker in die diep sneeu gespeel (Foto's!), geskoffel dat dit klap en lekker by die huis rond gelê. Die sneeu het opgehou val so teen 10uur, gelukkig net toe ons klaar geskoffel het! Daar was altesaam 38cm wat geval het in so 24uur - die meeste in Maart sedert 1889!

Dit het oor die naweek ook so 15cm geval, maar daar was intussen 'n bietjie warmer weer en daar is nie so baie sneeu as wat 'n mens sou dink nie.

Vandag is pragtig - nie 'n wolk in die lug nie, net hulle voorspeel 'n hittegolf die week - tot 12C!

Verder is Renee baie beïndruk deur die werk. Daar is honderde werkers, baie fasiliteite en hulle is natuurlik almal baie vriendelik ens. Dit is maar hoe dit hier by die werk is, almal, van skoonmaker tot grootbaas is almal vriendelik en gesels met jou. Renee gaan so 'n 5 gevalle hê om aan te werk, waar sy in Suid-Afrika so 60 of so gehad het!

Ons is net vreeslik bly ons is uit Suid-Afrika, want my swaer se skoonma het so 6 maande in Kanada gebly (oorkant die straat van ons) en is Saterdag terug RSA toe. Al haar juwele ens is op Jan Smuts gesteel - terwyl al die familie daar gestaan het, het iemand haar sak van die trollie geneem!


20/01/99