05/05/98

Dit is nou lekker lente. Dit het nou skielik verander van sneeu tot groen. Die voeltjies sing ons elke oggend wakker - die son kom nou 6:30vm op en gaan so 9:00nm sak. Ons het so tydjie gelede oorgeskakel na DST (Daylight Saving Time). Dit is regtig fantasties om na werk by die huis te kom en dan amper 2 ure son te he om jou eie ding te doen. In die middel van die somer is dit blykbaar 4:30vm tot 10:30nm! Mens kan nog 18 speel na werk, gaan visvang of nogwat. Alles is so naby Calgary, dat 'n mens maklik berge toe kan gaan na werk! Ons het verlede Saterdag berge toe gery so 3nm en so 8nm teruggekom. Dit was lekker dag - hittegolf van 15C! Ek sal jou 'n foto stuur van my wat in my kortbroek en T-hempie in die sneeu staan. Ons is nou behoorlik gesout - 5C is regtig lekker en 15C is kortbroek en T-hemp weer.

Die kinders gaan lekker aan. Lincoln het speel "baseball". En beide van hulle het musieklese - D.J. kitaar en Lincoln viool. DJ geniet die kerk se jeuggroep - hulle is 'n bietjie meer soos hy.

Voorverlede en verlede week en die vorige naweek was dit vreeslik baie "Baseball". Omdat dit so laat word hier, word die wedstryde in die weeksaande vanaf 6:30 gespeel. Dit is vreeslik snaaks om die son hoog in die lug te sien 7:00 in die aand. Ek moet se dit was nogal lekker om daar te sit, maar die wind was verlede Saterdag en Sondag baie koud. Ek sal nog foto's neem., maar dit lyk regtig soos somer, al was daar seker net een week se goeie weer. Voorverlede naweek was alles nog bruin en verlede naweek was die gras groener en het seker so 5 cm gegroei in plekke. Ons het hierdie naweek begin sny.

Wat regtig mooi is die ganse wat terugkom. Ons het nou die aand by die "Baseball" 'n groot "V" hoog bo ons gesien met seker so 30 ganse, en mens gereeld so 'n klein "V" van so 10. As hulle laer vlieg, kan jy hulle hoor roep.

Ek en Renee het nou albei ons bestuurderslisensies. Hulle is heel reorganiseerd. Ek het D.J. vir sy leerlings geneem nou die dag, toe doen ek my toets ook. Jy doen dit op 'n rekenaar, hulle neem jou foto met 'n digitale kamera en die kaart word vir jou gemaak in so 5 minute - so 'n kredietkaart tipe ding. Die volgende keer as jy kom is die foto klaar daar, so dit is nog vinniger.

Ek het verlede Saterdagoggend gou gaan ry ook, en het 45 punte verloor. Renee is lekker windie, want sy het maar 25 punte verloor! (Jy dop as jy 75 punte verloor!)

Ek is bietjie gatties aangesien ek 28dae te laat aangesluit het om 'n bonus te kry, en ek het 6 maande kort om 'n ekstra week vakansie te kry (Jy kry vakansie gebaseer op jou ervaring, so hulle gee my krediet vir 9.5 jaar se ervaring. Ek het darem 'n verhoging gekry en my bevordering tot Seniorstelselanalis is goedgekeur.

Ons het die laaste tyd baie nuwe dinge gesien - Saterdagaand was dit die "Noordelike Ligte" en ek het Sondag 'n "Beaver" in lewendige lywe gesien. Dit is nogal 'n ding om die dinge wat jy van al gelees het, of van gehoor het te sien. Dit is nes die lente hier - lente is regtig lente hier, en nie soos in Suid-Afrika nie. Ons het hierdie laaste week temperature gehad van 25C to 27C (Saterdag). Ek en DJ het vir die eerste keer Vrydag op die Bowrivier gaan visvang - niks gevang nie, maar dit was ook lekker. Ons was Sondag Kananaskis toe - daar gaan piekniek hou by 'n meer - was 'n bietjie koel weens 'n sterk wind, maar baie stil en rustig. Mens is so bly dat jy nie al die hordes moet trotseer as jy wil gaan stil wees in die natuur. Ons het ook baie 'n "pond" gaan visvang - ook daar niks gevang nie. Ek lees hier op die webblae van die groot vissermanne dat hulle dink die water is nog te koud. En alles wat 'n mens gelees / gehoor het van die miskiete is waar - hulle is so groot soos bomwerpers en dra jou omtrent weg. Lincoln was nou die dag so doenig met die miskiete op die "baseball" baan, dat ek en Renee gedink het hy gaan die bal mis as dit na hom toe kom.
 


20/01/99