10/98

Vroeg in Oktober (9de) is die NOVA projek aangeskakel, presies op die dag wat dit beplan was twee jare tevore. Dit was nou lekker om 'n slag op so 'n projek te werk. Dit het die middag ook begin sneeu toe ek op pad huis toe is. Die 9de / 10de is natuurlik die eerste herdenking van ons aankoms in Kanada (net twee jaar om te gaan vir burgerskap en 'n passpoort!) Die oggend het ons wakker geword na 'n wit Calgary - die sneeu het die hele nag geval. Dit het egter nie lank gehou nie.

Ons was almal Thanksgiving by Reneé se broer hulle (saam met Brian en Anne, hul familie en Martin). Baie lekker geeet en gekuier.

Ek was vir 'n week in Vancouver om te help met 'n projek vir West Coast Energy. Die projek loop al jare en ons probeer dit nou agter die rug kry. Dit was nou interessant om in Vancouver te wees - dit was baie warmer as Calgary, en dit het glag nie gereen soos dit blykbaar gewoonlik doen. Ons het ook maar lekker hard gewerk, maar ook so 'n tydjie gehad om uit te gaan. Ons het by 'n paar besonderse restaurante gaan eet - "Bridges", wat op Granville Eiland is - dit was uitstekend, "Rain City" wat goed was, maar nie so goed soos hulle reputasie 'n mens sou laat dink het nie en "Salmon House on the Hill." Laasgenoemde was ook baie goed - amper op die vlak van "Bridges". Ek het daar 'n vreeslike lekker Salm deurgewerk - die beste vis wat ek al geeet het.

Terwyl ek daar was, het Renee my vertel dat ons "Landlord" gebel het - hy bly mos in Malasiee, en weens die "Asian Flu" wil hulle vroeg terug kom. Renee het twee dae afgehad by die werk, so sy het gaan huis soek. Saterdag oggend is ons uit om huise te kyk - ek kon natuurlik sien watter een Reneé gedink het! In elkgeval ons het na 'n ander een gaan kyk wat sy nog nie gaan sien het nie. Die agent het nie opgedaag nie, en ons het toe lank gekyk na die plek. Dit het 'n pragtige uitsig van die Rockies, en ons besluit toe dat as die huis nie te sleg binne is nie, sal ons die plek koop, al is dit vir die uitsig! Ons reel toe met 'n ander agent en nadat ons gekyk het, het ons 'n aanbod gemaak. Ons aanbod is aanvaar, en ons wag net om te hoor van die HMRC (Eienaarsskema van die staat wat huisverbande waarborg) - die bank het ons klaar 'n lening teen 5.99% aangebied. Hopelik as ek weer skryf is ons in ons nuwe huis!

Saterdagmiddag het ons 'n maatjie (ek wil nie sy naam noem nie - net nou sien sy baas hy is hier en nie by sy vakansieplek nie!) gaan haal by die lughawe. Hy is hier vir 'n week om dinge hier te beloer en te kyk na werksmoontlikhede. (Ons hou duimvas hulle gaan ook Calgary toe trek.)

Ons, ons maatjie en Martin is Sondag saam na Lake Louise en Banff. Dit was, soos altyd, baie mooi, maar dit sou beter gelyk het as daar darem so sneeutjie op die berge was. Ek en hy was ook tydens die week uitgery na die klein dorpies suid van die stad - Okotoks, Black Diamond ens Dit lyk pragtig daar, al is dit bruin en droog - dit sal seker baie, baie mooi wees in die somer. Dit is sulke plase wat strek na die horisone, en die Rockies in die verte.


20/01/99