Ek was in die tweede week van Augustus weer af Houston toe. Dit was bietjie akkies in die sin dat ek daar was vir vergaderings, maar bloedweinig uitgerig want die kliente was nie reg vir die saak nie. Ek was darem weer by "Pappadeux" en "Lupe Tortilla's", twee van my gunsteling restaurante in Houston. Ons was ook een aand na "Taste of Texas", wat 'n baie gawe "steakhouse" tipe plek is. Die manne het vir die mense vertel dit is my verjaarsdag, sodat hulle my 'n bietjie kon karnuffel - onder andere kry mens 'n nekdoek soos 'n mens altyd in die flieks sien en dan neem hulle 'n foto van jou. Verder was my hulle reis versuur want ek moes die Sondagaand vertrek - en hulle kanseleer die vlug nadat ek klaar deur doeane was! Met die terugkomslag, was ons besig om na die aanloopbaan te ry toe dit begin kwaai reen. Ons moes toe wag totdat dit minder kwaai word - teen daai tyd moes ons weer brandstof ingooi en ek is toe 2 ure laat. Maak my toe bietjie gatties, want ons moes die aand na swaer Nico gaan vir hulle "afskeidpartytjie". Hulle gaan nou lyk my in Vancouver bly, want daar is baie meer werk in die filmbedryf daar.
'n Hoogte punt in Augustus was a kamp te "Pine Lake", so 1 1/2 uur se ry noord van Calgary. Ons het 'n groepskampplek gekry en Werner en ek is die Donderdagoggend vroeg saam met D.J. en Lincoln en Denike en Carmi. Ons het 'n vreeslike lekker kampplek gekry - basies 'n oop stukkie veld aan die kant van die kampeergronde. Ons het ons tentsleepwa opgeslaan en 'n tent vir die kinders. Daar is 'n lekker sandstrand by die plek, maar dit was maar 'n bietjie koud. Daar was ook 'n lekker plek om speletjies te speel, onder andere verskeie "Pool"-tafels. Ek en Werner het natuurlik verskeie potte "Pool" gespeel. Die aand het ons potjie gemaak.
Vrydagoggend het ons lekker laat opgestaan. Natuurlik was die voorontbyt baie lekker - Potjie "Jaffel"s. Ons het toe bietjie "Pool" gespeel, en 'n lekker "brunch" gehad. Later die Vrydagmiddag begin die res van die mense opdaag - Renee-hulle saam met Nico en Brenda en Derek en Anne-Marie Jones bietjie later. Daar is net tent opgeslaan dat die sweet spat en die aand het ons gebraai.
Die volgende dag was dit weer 'n voorontbyt gevolg met 'n "Brunch" en toe het ek Werner begin om Jambalaya te maak. Ek het die resep van een van die regte "Cajuns" wat in Houston werk gekry. Ons het ook 'n "Dirty Rice" gemaak. Dit was heel gaaf, want ons het albei ons "Mandela Mikrogolwe" gebruik. Ek het 'n nommer 4 en Werner 'n nommer 3. Ons het toe al die tafels in die area in een lang tafel gemaak. Dit Jambalaya het soos mis voor die son verdwyn. (Foto's)
Vir die volgende oggend se voorontbyt was daar darem so bietjie "Dirty Rice" en toe is ons almal huis toe.