Julie '99

Dit sneeu verskriklik in die berge die eerste naweek in Junie - soveel so dat hulle die pad tussen Lake Louise en Jasper moes toe maak.

Ek was net so paar dae by die werk - genoeg om my span weer aan die gang te kry en my eise in te sit vir die maand se hotelle, vliegtuigkaartjies ens (Die groot totaal van $15000 - alles op my Amex kaart!). My broet en sy vriendin Linda Grove het die 7 Julie aangekom. Ons het vir hulle 'n lekker streep getrek - DJ het sy hare rooi gekleur en met mousse in sulke stekkelhare gemaak. Hy het ook sulke magnetiese oorbelle aangesit. Lincoln het soos 'n regte "Goody-Goody" aangetrek - geknoopde hemp, hare netjies gekam ens. Ons het darem almal ons lag gehou en Andre het nog gevra "Wat het met jou gebeur?" en DJ het baie mooi gemaak asof hy bedoel het, hoekom is ek en DJ laat. (Ons was in 'n ander deel van die lughawe.) Toe ons 'n rukkie by die huis was, het ek vir Andre gevra of ons 'n foto kan neem voordat DJ die gemors uit sy hare uitwas - en toe het ons almal lekker gelag. Andre het juis gese hy dink al wat skryf hy vir my ma oms te vertel van die kleinkinders wat in Kanada so ontrafel en Linda het ook maar gewonder wie is die kind wat soos 'n regte bleeksiel lyk (Lincoln). (Foto's)

Andre, Linda en ek is die volgende dag na die Calgary Tower, COP, Chapters (boekwinkel), verskeie drankwinkels!, Prince's Island Park, Eau Claire mark ens. Ons het natuurlik tot laat gekuier, en die volgende oggend is ons dou voor dag na die "C-Train" stasie om die trein na die stad te neem. Ons het daar lank gestaan en die Calgary Stampede se "Parade" gekyk. Ek het myself natuurlik belowe om nooit weer te gaan nie, dit is te lank ens. Ons het daarna Ribbetjies gaan eet, Linda se pa het hulle vertel hulle moet eenvoudig in Noord-Amerika ribbetjies eet. Ons het toe daarna na die Stampede. Daar is baie om te sien en ons het so 8 nm na die "Chuck Wagon Races" gaan kyk. Daar was tydens een die wedlope 'n vreeslik ongeluk en hulle het verskeie ambulanse daar gehad en het later die Stars helikopter ingehad. (Ons het later in BC gehoor die bestuurder is dood in die hospitaal). Met die spul is alles toe laat en die "Grandstand Show" het tot so 00:30 vm aangegaan. (Ek myself ook belowe om nooit weer dit te doen - ook te lank ens). Ons is toe terug huis toe met die "C-Train" en eers so 1:30vm in die bed geklim!

Die Saterdag oggend het ek en die seuns so 6:30 vm begin om die sleepwa en die kampeergoed reg te kry en ons is toe Lake Louise toe, waar ons kamp op geslaan het. Ons het toe die omgewing verken - Lake Louise en Lake Moraine. Weens die vorige week se sneeu was dit redelik koel, en die berge lyk pragtig waar die sneeu nog daarop le.

Sondag is ons Banff toe vir die dag. Onder andere is ons by "Sulphur Mountain" op met die kabelkarretjies. Ek het natuurlik dit glad nie geniet nie (hoogtevrees!), maar die uitsig is verstommend. Andre en Linda en die seuns het ook in die Hot Springs gaan bad en ons het natuurlik se lekker sjokolade "Bear Claws" gekoop. Ons is toe terug na die kamp te Lake Louise.

Vroeg Maandagoggend is ons voort Jasper se kant toe. Ons hou piekniekontbyt by Peyto Lake (waar die sneeu nog in hope staan na die vorige naweek se sneeu) en stap tot die bo punt van Bow Mountain om die Peyto Lake en die gletser wat hom voer. Toe ons terug kom, begin Renee met 'n vrou gesels wat in die parkeerterrein staan. Sy was nie in staat om by Bow Mountain op te stap nie, en het by hul motor gewag. Sy was baie ontsteld, aangesien 'n natuurbewaarder haar kom vertel het dat daar 'n Grizzly in die omgewing is. Sy het nie die sleutels vir hul motor gehad nie en kon dus nie in die motor klim nie. Ons wag toe saam met haar totdat haar mense kom. Toe ons buite op die snelweg kom (so 1km), staan die Grizzly langs die pad en vreet!  Ook op pad Jasper toe het ek, Lincoln en Andre op gestap tot die Athabasca gletser. Ons was ook almal by die Athabasca watervalle.Ons is die middag Lake Maligne en Lake dit-en-dat toe (daar is so baie mens kan nie byhou nie!). Die muskiete was erg!

Dinsdag ry ons Mount Robson toe (die hoogste berg in die Kanadese Rockies), maar toe ons die die "long-drops" sien en ook agter kom dit is die jaarvergadering van die muskiete, toe ry ons maar voort. Dit was ook maar goed want dit reen dat dit klap en ry toe heelpad na Kamloops. Gelukkig hou dit op reen en ons maak die kamp reg. In die nag het die reen weer gekom (wat verwag 'n mens van BC!)

Woensdagoggend pak ons die kamp op die reen en ry deur na Abbotsford. Nadat ons kamp gemaak het, ry ons toe deur Vancouver toe. In Robsonstraat kry on 'n Griekse Restaurant waar ons begin eet. Terwyl ons daar sit, loop Brenda (my skoonsuster) en haar kinders verby! (1000 km+ weg van die huis kry ons mekaar!). Ons was van plan om hulle te bel, maar wou eers eet. Ons het toe bietjie by die see rondgeloop en deur Stanleypark gery en terug Abbotsford toe.

Donderdag oggend is ons vir die dag in Vancouver toe. Linda, Andre en die seuns is oor die Capilanobrug (Ek was te bang en Renee wou rus). Ons kon ook nie by Grouse Mountain opgaan nie, want dit was te bevolk. Toe ry ons maar terug Abbotsford. Daar braai ons saam met Fernando & Rina Kuhn.

Vrydagdag ry ons Tswassen toe en neem die "Ferry" Victoria toe. Natuurlik reen dit aanmekaar. Nadat ons middagete geeet het, is ons na "Butchart Gardens". Dit was net so mooi soos die vorige keer. Dit is maar 'n plek waar 'n ou gereeld kan gaan. Ons was eintlik van plan om die nag by Thetis Lake te kamp, maar ons het voor die tyd besluit om terug te ry, so ons het net die wa geneem. Ons is dus terug Abbotsford.

Saterdag het ons absoluut niks gedoen nie. Die aand het Fernando-hulle gekom vir 'n Potjie.

Sondagoggend ry ons Squamish toe (Lake Alice) en slaan kamp op. Brenda en Nico het vir die dag uitgery (Nico was besig om fliek te maak in Vancouver). Ons het toe lekker gebraai, bietjie geswem in die meer (DJ, Lincol, Karl, Katherine en ek) - die Suid-Afrikaners was te bang! Ons het die aand 'n salm gebraai - baie lekker.

Maandagoggend ry ons toe langs die "Sea to Sky Highway" (baie mooi want die weer was goed) en toe al die pad na Lake Okanagan. Ons het toe kamp gemaak en gaan eet. Terwyl ons so om die kamp doenig is, roep die mense van die kampplek agter ons "Hoor ons Afrikaans?". Dit is toe 'n afrikaanse dokter (Andre van Heerden) met sy familie van Creston, B.C. en skoonfamilie wat van Pretoria, RSA kuier.

Dinsdag het ons lekker geswem in die meer en algemeen sleg gewees en die aand potjie gemaak.

Woensdag neem ons die lang pad terug Calgary toe.

Donderdag het Andre, Linda en ek vir ou laas na Chapter's toe gegaan (boekwinkel) waar hulle albei 'n hele maandjie vol gekoop het. Ons moes later vir hulle nog 'n tas gaan kry om al die boeke in te sit.

Vrydagoggend vlieg Linda en Andre Florida toe en ek moes weer gaan werk!

Die res van die maand was maar vinnig verby, want ek moes vinnig die draad optel van die projek, aangesien ons die eerste week in Augustus weer toetse met die klient beplan het.


10 Aug 99