Ek was die hele Junie in Houston vir die Tejas Projek. Uit die vliegtuig kon ek al sien dat dit baie anders is as wat ek gedink het. Ek was onder die indruk dat dit soos die "Wilde Weste" van die flieks gaan wees, maar dit was meer soos wat ek Louisiana voorgestel het - baie bome en bosse en gras en goed, met baie water. Dit laat 'n mens 'n bietjie aan Durban se omgewing dink. Toe ons uit die lughawe kyk kon mens sien die mense is almal soos in Durban aangetrek - kortbroek en T-hempde ens. En toe ons by die deure uitkom, toe slaan die hitte en die humiditeit soos 'n vuis. Ons het natuurlik ook die bus geneem na die verkeerde motorhuur maatskappy, en het eers 'n wye draai geneem. Darem het ons karretjie lugversorging gehad, anders was die manne van Kanada dood van die hitte! (Dit was meeste van die tyd tussen 30C en 35C met baie humiditeit toe ek in Houston was)
Houston is vreeslik uitgesprei. Daar is vreeslik baie snelpaaie ens en mens moet kophou, anders verdwaal jy of mis jou afrit. Daar is ook geen stadsbeplanning nie, so mens kan industriee lanks woonstelle, lanks kantoorblokke, ens ens kry. Jy moet eenvoudig 'n motor he om rond te ry. Ons het byvoorbeeld amper 45min gery vanaf die lughawe na ons hotel. Dit was darem "Memorial Day" in die VSA met ons aankoms, so ons gery om te gaan kyk waar Tejas se kantore was ens.
Ek en een van my kollegas, Alfred Chu, het die eerste week die hardware geinstalleer, en kon darem teen die Sondag die dag afvat om die wereld te gaan verken. Ons was eerste na die Houston Space Centre. Ek was al baie skepties toe ek die pamflette sien van die plek - dit het my al te veel na 'n Disneyland opset gelyk. Ek het juis vir die man by die parkeerterrein gevra om daar darem 'n museum is, of is dit net ,n "Disneyland". Hy belowe hoog en laag en ons gaan in (teen $3 parkeering) en by die deure, waar ek reeds die "Disney" effek kon sien, het die tannie nogsteeds hoog en laag gesweer dit is nie net 'n "Kiddie's" plek nie. Teen $12.95 elk is ons daar in. En dit is toe ook maar 'n "Disneyland" - goed om op te ry, 'n McDonalds, plekke om koeldrank te koop, plekke om aandenkings te koop ens ens. Ons kon geen teken van museum sien. Ons het die 1 uur toer geneem na die NBL (Neutral Buoyancy Lab) geneem. Daar kyk 'n mens na 'n groot swembad vir 10 minute en ry terug. Mens kan net onder die water kyk dmv 'n beeldradio, so 'n mens kan net so wel nie die 40 minute in die bus mors nie en dit alles via beeldradio in die "Space Centre" beloer. Ons het darem na 'n gesukkel die museum deel gekry - baie, baie goed weggesteek. Dit was vreeslik swak belig - jy kon skaars die etikette lees ens. Ons was nie baie beindruk nie - veral aangesien die $12.95 amper $20 Cdn is!
Ons is daar voort na Galveston, die hawe stad naby Houston. Ons was ook nie baie beindruk nie - die water is vuil en daar is nie juis golwe nie.
Ek en Alfred het darem lekker geeet - die restaurante in Houston is bobaas! Ons was verskeie kere na "Pappadeux Seafood Kitchen" - dit is 'n Cajun seekos plek. Ek het "Blackened Catfish", "Dirty Rice", ens daar ontdek. Naby die hotel was 'n klein plekkie (Iets soos "Atchafalaya River Cafe"), wat ook Cajun kos het. Dit was nie so goed soos Pappadeux nie, maar het baie goeie "Dirty Rice" gemaak. "Dirty Rice" is rys met fyngemaalde vleis, kruie en Cajun speserye en ook vars gekapte groenuie. Die porsies is enorm en mens het maar swaar geslaap - ons het eers so 9 nm by die restaurante uitgekom, so ons het gewooonlik so 11nm eers by die hotel uitgekom! Die Cajun invloed is groot, aangesien Houston net so 400km (?) vanaf die Louisiana grens is. Daar is ook 'n groot Meksikaanse invloed aangesien die suide van Texas aan Meksiko grens. Ons was ook by 'n paar Meksikaanse restaurante - die beste was 'n plekkie genoem "Lupe's Tortilla's". Ons was ook by "Dixie's Redhot Roadhouse" waar ons "Baby Backribs" geeet het wat gesmelt het in die mond - hulle is in Coca-Cola gemarineer oornag en is so sag dat jy die vleis met jou vurk van die bene kan afhaal. Hulle het ook 'n verstommende "Pecan Pie". Aangesien Alfred voorheen op bote gewerk het, is hy 'n groot vleiseter, so ons mos elke nou en dan regte vleis gaan eet. Ons het toe 'n plek ontdek "Steak Kountry Buffet", waar jy vir $8-00 so veel vleis ens kan eet as wat jy wil. Dit is nie eerste klas nie, maar ons het ook verskeie keer daar gaan eet as ons vinnig iets wil he. Oor middagete was ons 'n paar keer na "Three Bears" - dit is 'n snaakse opset. Omdat Houston so groot en uitgesprei is, is dit moeilik om oor middagete na restaurante te kom as jy in die middestad werk. Die restaurant het toe 'n kerk genader en het 'n alternatiewe restaurant in die kerksaal oor middagetes. Die restaurant werk amper soos 'n koshuis se eetsaal, maar die kos is uit die boonste rakke (dit is ook meestal Cajun kos). Ek moet se die Cajun kos en Meksikaanse is darem baie anders as wat 'n mens hier kry - dit het baie meer hitte. Ek raak nou gewoond en eet sommer die sterk chilli.
Ons het darem na 3 weke alles aan die gang gehad en alles het gewerk behalwe een protokol. Alfred is terug Kanada toe en ek het 'n nog gesukkel om die laaste twee toetse van die protokol gedaan gekry om alles klaar te kry. Ek kom toe agter daar is groot fout met die implementasie en het toe die hele protokol en die kommunikasie module uitgehaal en 'n heeltemal ander een van een van die ander projekte afgelaai en oor die naweek aan die gang gekry.
Ek het toe die klient gehelp om sy stelsel in bedryf gestel. Dit was maar erg, want ek het Renee afgevlieg om die laaste week saam met my te wees (Die Jones's het nog in ons huis gebly, so hulle kon ons kinders oppas!), maar ek moes die heeltyd werk. Ons was ook van plan om af te ry na Corpus Christi, in die suide van Texas - baie meer soos die "Wilde Weste", maar 'n baie mooi strandgebied ens. Van my pa se vriende bly daar en ons sou hulle besoek het. Ek moes egter die hele tyd werk en ons het ons toertjie gekanseleer. Ons het darem tyd gehad om by 'n paar restaurante uit te kom en ek het vir Renee Pappadeux, Atchafalaya, Lupe's gewys. Ons was ook by 'n hamburger plek waar ons die beste burgers wat ons al in Noord-Amerika gekry het, geeet het. Baie beter as Kanada! Ek kon darem die Sondag middag afkry en ons was weer Galveston toe en op pad terug was ons by Kemah, 'n klein dorpie op die Golf van Meksiko wat baie oulik was. Ons het darem 'n ander deel van Galveston gesien - Renee het uitgevind waar om te gaan en wat om te sien, so ons het dit darem bietjie meer geniet as toe ek en Alfred daar was. (Foto's)
Dit was maar baie lekker om terug te kom in Calgary, want die laaste dag in Houston was dit 40C en bietjie baie bedompig. Op die draadloos het hulle vertel mens moet baie water drink en binne bly, want dit was effektief 42C. Ek het in Calgary buite gestaan om die koelte te geniet - so 18C.