Ek is in Pietermaritzburg gebore en het meeste van my kinderjare daar spandeer. (Ridge Infant School 1970 -1972, Pelham Primary 1973-1976 & Hoërskool Gert Maritz 1977 - 1981). Ek het destyds graag in atletiek, swem, rugby en skaak deelgeneem . In my laaste skooljaar het vir die "Pietermaritzburg City Chess Club" en Natal Skole (Bord #4) skaak gespeel.
Ek het later by Universteit Stellenbosch studeer, waar ek my B.Sc (Rekenaarwetenskap & Toepaste Wiskunde) (1982 - 1984) en my Hons-BSc (Rekenaarwtenskap) (1985) gekry het. Ek het in my eerste twee jaar op Matieland in Dagbreek, die beroemde (en berugte) koshuis gebly. Daarna het ek my M.Sc (Rekenaarwetenskap) by UCT behaal (1986 - 1988).
Die eerste paar maande van 1989 was ek doenig met my basies in die Seinkorps (Heidelberg, Leergimnasium) en daarna niks opwindend in die kamp by 5 Sein (Wonderboom). Later is ek gesekondeer na Grinaker Stelseltegnologiee as Stelselsagtewareingenieur. Ek het toe maar by Grinaker aangesluit en na my diensplig daar aangebly.
My volgende skuif was na "Perseus Computer Systems", wat in dieselfde tydperk as my troue met Reneé gebeur het. Ek was 3 jaar in die maatskappy terwyl hy verander het in "PCS Computer Projects" en later geskuif in die groep na "Persetel Systems Integration". Ek was die heeltyd betrokke by die NaVIS (Nationale Vervoer Inligtings Stelsel) projek.
Teen die einde van 1995 het ek op my eie gegaan en 2 jaar konsultasie werk gedoen, meestal op die NaVIS projek.
In September 1997 was ons siek en sat vir die misdaad in Suid-Afrika en ons het maar ons huis in Pretoria verkoop, ons hond Lisa vir die bure geskenk en na Kanada vertrek.
In Desember 2001 het ons Kanadese burgers geword!
Belangstellings
Ek het begin 1997 kunsvliegvisvang begin. Ek het so paar kiekies ens van visvang erens op die blad.
Ek speel ook graag speeltjies op die rekenaar met Sid Meier se "Civilisation II" my groot gunsteling.
Ek is ook nog lief vir Krieket en Rugby. Ek was 'n seisoenkaartjiehouer by Loftus Versfeld, die tuiste van die eens magtige "Blou Bulle". (Deesdae die "Vlou Bulle"!)
Ek volg die Bokke en die Krieket span deur op CNN/SI's se blae te loer, en Video's van die Rugby van Suid-Afrika van die familie daar help ook om die spelers te leer ken.